Mentorskap

 
Mentorskap

Wat is jou behoefte as skrywer?  Wil jy  aan spesifieke aspekte van jou teks werk?  Of dalk meer gereeld terugvoer kry?  Werk jy graag met sperdatums of het jy motivering nodig?  As mentor is my fokus om jou leiding te gee en te help ontwikkel.  Hier is die vergrootglas nie noodwendig op 'n voltooide manuskrip nie; jy kan aan enige genre werk of selfs net die skryfoefeninge doen waarop ons besluit.  Saam identifiseer ons wat jou spesifieke behoeftes is.  Ons bespreek jou sterk- en swakpunte en werk deur oefeninge wat dit aanspreek.  Ek druk jou buite jou gemaksone, maak aanbevelings oor boeke en is 'n klankbord.  Jy kry in elke kontaksessie terugvoer oor jou werk.

Vir so 'n mentorskap om werklik 'n impak te hê, moet dit minstens 6 maande duur (met een-tot-een ontmoetings of skypesessies elke 2 weke). 

Waarom Madri?

Ek is langer as 10 jaar in die boekbedryf en het baie geleer as redakteur (by NB-Uitgewers sowel as vryskut).  Ek werk gereeld saam met uitgewers en gepubliseerde skrywers, maar ek het 'n hart vir jong, ontluikende skrywers.  Meer nog:  ek skryf self, ek verstaan die struwels en vreugdes.  Ek geniet werklik my werk - en dit wys in my interaksie met skrywers.

Kursusse en klasse
Boustene van 'n roman (6mnde)​
April 2019 - Aug 2019

 

'n Sesmaande kursus waarin jy fokus op die boustene van 'n goeie roman:  karakterontwikkeling, perspektief en verteller, intrige en plot, ruimte.  Ons ontmoet 1 maal per maand op 'n Saterdag vir teorie en praktiese oefeninge.  Hier gesels ons elke maand met gepubliseerde skrywers.  Gedurende die ses maande werk jy aan jou roman sodat jy elke maand terugvoer kry op jou skryfwerk en leer soos jy vorder.

 

 

Die kortverhaal (naweek)

Mei, Julie en September 2019​

​Skud jou skryflitte los met oefeninge in die kortkuns:  Skryf flitsverhale, 6 woord stories en 'n kortverhaal.  Ons ontleed kortverhale van die meesters in 'n poging om die magiese vas te vang.  En kyk wat tydskrifverhale anders maak as dié vir literêre samestellings.  Dié kursus is 'n kragtige skryfinspuiting.

Skryfklasse vir skoliere en studente

Sukkel jy op skool om opstelle te skryf? Is begripstoetse bo jou vuurmaakplek?  Ek bied ekstra klasse aan waarin ek jou leer hoe om verskillende tipes opstelle te skryf.  Ons oefen begripstoetse en lees anderste boeke as dié wat jy op skool kry.  Ek help jou om te ontdek wat woorde so wonderlik maak.  En as jy self meer wil skryf as opstelle, mentor ek jou  op daardie pad.

Ander werk 

Manuskripontwikkelaar

(Spook)skrywer

Resensent

Gespreksleier

Aflosdosent by Universiteit Kaapstad

​Samesteller van Woordfees kortverhaalbundel

Skrywers-
gemeenskap
Skryf binne 'n skrywersgemeenskap

Februarie - November 2019​

 

Word deel van 'n groep skrywersvriende wat maandeliks bymekaarkom.  Ons bespreek die skryfkuns, boeke en resensies.  Ons lees mekaar se werk en lewer opbouende kritiek.  Elke maand gee ek 'n skryfoefening en bespreek knelvrae en woordprobleme.  Hier kry jy ook uitnodigings na boekbekendstellings en gesels met skrywers en uitgewers.  Leer en ontdek saam die wonderlike wêreld van die woord.  

Volg my

© 2023 by Nicola Rider.
Proudly created with Wix.com

 

Bel my

076 222 9364   

  • Facebook Clean
  • Instagram - White Circle