Suksesverhale en aanbevelings

81CG+++jGZL

“Coetzer se outobiografie is belydenisliteratuur op sy beste. Geen emosie of gedagte word ontsien nie en neem die leser tesame met die Coetzer-gesin op meelewende wyse na haar hartseer, vreugde, maar ook die soeke na stelselmatige aanvaarding. […] Dié outobiografie sal lesers nie teleurstel nie. Hartseer en skokkend is dit wel – maar dit is ’n fassinerende leeservaring wat die leser lank sal bybly.” (Dewald Koen in Rapport)

“Juis daarin lê een van die boek se sterkpunte: Dit is nie iemand dié wat selfbejammerend onthou hoe haar hele lewe in ’n oogwink verander het nie, maar ’n ma wat met wysheid van terugskouing kan besin oor die onverwagse pad wat die lewe soms met jou kan inslaan. […] Coetzer skroom nie om haar eie swakheid te ontbloot en haar broosheid bloot te lê nie.” (Riëtte Grobler in Die Burger)

As Madri Victor vir jou sê die manuskrip gaan nie werk nie vra jy nie vrae nie, jy skryf jou verhaal oor! Want dié is die eindresultaat.” (Juliana Coetzer)

 

eMajuba-high res

 

“Om ʼn debuutroman die lig te laat sien, is geen geringe ervaring nie. Wat skryf mens in die verhaal en wat nie? Daarom was Madri Victor se insette so waardevol.” (Dawie Louw)

“ʼn Boeiende boek wat kuberkrakery en geskiedenis kombineer en heelwat groot kwessies aanraak.
Wanneer is ‘n oorlog werklik verby? Watter vorme kan verkragting alles aanneem? Wat is die verskil tussen vergifnis en blote toesmeerdery?” (Alta Cloete op Goodreads)

 

 

 

 

4856304

“Ek het al die vergelyking getref dat ʼn boek uitbring neerkom op dieselfde proses as om uiteindelik vir die Groen en Goud uit te draf. Een persoon alleen kan dit nie doen nie. Dit verf afrigters, skeidsregters, spanlede. Ek sal enige dag saam met Madri Victor opdraf vir ʼn wedstryd. Nie net ken sy hierdie spel nie, maar sy is iemand wat ʼn mens in jou span soek.” (FJ Labuschagne)

“Beseringstyd is gedompel in rugbykultuur. Jy kan die Deep Heat ruik. Jy maak jou somme en jy weet die mense wat hierdie roman bevolk, bestee omtrent jou jaar se salaris aan die was van klere.  (Daar is) ’n aangrypende, boeiende verhaal, verskeie karakters wat meer as eendimensionele figurante word, ’n uitstekende aanvoeling vir die Pretoria-konteks van die grootste deel van die verhaal, en ’n baie lewendige voorstelling van die wêreld waarin die groot rugbydramas afspeel. Die grootste wins wat Labuschagne bring, is die uitbeelding van die groot weelde en rykdom waarmee sommige rugbyspelers omgeef is, en hoe swak hulle emosioneel toegerus is vir die volwasse wêreld.” (Kerneels Breytenbach in Die Burger)

Kyk ook na die lokprent van Beseringstyd op Youtube.

 

Sonde van Lucinda

 

“Die boek beweeg vinnig, die tempo vat jou op ’n galop soos die skarniere van ’n ou katel wat vinnig kraak. […] Schoombee vat ’n onderwerp wat al holrug gery is (no pun intended) en maak dit ’n aangename, opwindende, vars leeservaring.” (Herman Lategan op Litnet)

“As voorspelbaarheid die grootste kritiek is wat ’n mens teen die boek kan inbring, is dit ook die roman se redding: almal ken iemand wat dieselfde stel as Stéfan afgetrap het en die karakters en intrige is besonder oortuigend. Sonde van Lusinda is ’n cliché, maar ’n cliché wat deur ’n knap skrywer boeiend tot lewe gebring word.” (JB Roux in Media24 Boekeblad)

“Ek het Madri Victor se kritiek ter harte geneem en die storie herskryf. Op die ou end was die geld wat ek haar betaal het oor en oor  die moeite werd.” (Anton Schoombee)

 

 

Glipstroom

“ʼn Eerste manuskrip gaan gepaard met ʼn groot mate van onsekerheid, asook onkunde. ʼn Mens het iemand nodig wat in jou, en jou manuskrip, glo. Iemand wat die wereld van woorde verstaan.  Vir my was dit Madri. Van ons eerste ontmoeting het sy met haar sonnige geaardheid my hart gesteel. Sy het my met ʼn sagte ferm hand deur die geboortepyne van ʼn eerste boek begelei. Madri het my ook aan die regte uitgewer, en persoon bekendgestel.” (Anemari Jansen)

“Jansen het ’n fyn aanvoeling vir en kennis van die psige. Sy bedien haar dikwels van pragtige poëtiese frases sonder om dit in sierskrywery te laat ontaard – dit is trouens die eenvoud daarvan wat so bekoor en dit vervoeg naatloos met die verhaal.” (Jeanette Ferreira)

“Jansen se goeie beskrywings van die bos, sekere karakters en dialoog lewer ’n verhaal wat mens tog bybly ondanks die voorspelbaarheid.” (Annemarie van der Walt in Volksblad)

“Glipstroom is ’n bevredigende debuut. Dit is ’n roman wat stadig beweeg, introspeksie doen van vrouwees en fokus op die besinning en subtiele belewenis van die oomblik.” (Nini Bennett op Litnet)

 

Ek het by Madri aangeklop met ʼn manuskrip wat nog net in hoofpunte neergepen was. Dadelik het sy die potensiaal raakgesien en met entoesiasme en aansteeklike opgewondenheid vir my gemotiveer, geinspireer, en wel en deeglik onder hande geneem totdat die eindproduk, Sandsteenkasteel, daar was. Hierdie lywige historiese verhaal het sy meesterlik georden, insette van onskatbare waarde gelewer en nie geskroom om van onnodige teks ontslae te raak nie. Haar kennis en professionele hulp is onontbeerlik en van onskatbare waarde vir enige skrywer.” (Felicia Goosen)

“Dit is waarskynlik die lywigste en mees ambisieuse Afrikaanse boek wat tot dusver eksklusief in digitale formaat uitgegee is. […] Dié roman bewys dat e-boeke nie “uitskotwerk” is wat deur hoofstroomuitgewers van die hand gewys is nie.” (JB Roux in Rapport Boeke)

“Wat Sandkasteel so besonders maak, is dat Goosen ook van Clocolan is, direkte familie van die Newberrys is én as kind gereeld in die mooi sandsteenkasteel op Prynnsberg gekuier en gespeel het. Hoewel sy die name van die karakters verander het, is elke woord in die boek en elke fyn beskrywing oor die mense, die gebeure en die gewoontes waar én weerlê sy die gerugte en stories. Sy het agt jaar lank navorsing vir die boek gedoen.” (Charles Smith in Beeld)

 

Kruitvat

 

“Madri Victor het my op my tone gehou en ʼn objektiewe oog oor my vordering gehou.” (Henning Janse van Vuuren)

Kruitvat deur Henning Janse van Vuuren is ʼn triomf. Dis ʼn karaktergedrewe heuningpot van intrige en spanning wat die ondenkbare regkry: Dit spin ʼn storie in die hier en nou wat jou laat vergeet hy’s Afrikaans; wat enduit boei en oortuig met sy taalgebruik en gebeure; wat jou hardop laat lag en jou laat seker maak die voordeur is dig gesluit – sonder om, en dis nog een van die slaggate in Afrikaanse prosa, jou soos ʼn 12-jarige te behandel.” (Marius Visser in Rapport Boeke)

 

 

 

Onse Vaders

“ʼn Sagte, maar ferm en intelligente hand met ʼn manuskrip – dis Madri!” (Karin Brynard)

“Met haar eerste boek, Plaasmoord (2009), het Brynard ’n merkie gekerf aan die deurkosyn van die spanningsroman-genre, ’n merkie waaraan haar en ander skrywers se boeke in die vervolg gemeet sou word. Onse Vaders trek met ’n spoed weg wat die leser só aan die nek naderpluk dat daar nie tyd is vir neersit om ’n koppie koffie, of iets sterkers, saam met die karakters te drink nie … en lesers het daardie iets sterkers nodig! … Hierdie boek is ’n saamdra-in-die-kop boek, wat bevestig dat Brynard een van Afrikaans se meester-spanningsromanskrywers is.” (Deon Adriaanse op Litnet)

“Karin Brynard het met Plaasmoord reeds gewys dat sy die speurverhaal op ’n ander manier benader. Sy het ’n unieke blik gegee op die problematiek van ons land. Maar hoewel Plaasmoord ’n besonderse ervaring was, het niks my kon voorberei op die verrassing wat Onse vaders bring nie. Dit is die beste betrokke roman in Afrikaans sedert John Miles seKroniek uit die doofpot (1991). … Onse vaders is sosiale kommentaar op sy heel vernuftigste. (Kerneels Breytenbach op Litnet)

 

ek_was_hier“Buiten Madri se goeie redaksionele vermoëns het sy ʼn stip intuïsie omtrent die werkbaarheid van ʼn teks. Dit is ʼn gawe wat nie aangeleer kan word nie en dit onderskei haar van ʼn gewone “boekgeleerde” redakteur. Sy kan enige gegewe volume, hoe dig geskryf ook al, in ʼn suiwer sintese saamvat en die kern van die verhaal uitlig. Haar etiek as goeie redakteur sorg dat sy nie ʼn skrywer se teks hare maak nie, maar die betrokke skrywer se stem helderder laat opklink. Sy is volkome toegewyd aan die projek waarvoor sy haar inlaat, ten bate van die skrywer sowel as die teks. Kortom, sy ken haar storie!” (Nanette van Rooyen) 

“Hierdie opwindende jeugroman is in 2011 bekroon met die eerste prys in LAPA se jeugromanwedstryd. En van die inleidingsparagraaf af, waarin Frankie ’n pikswart rot op haar vensterbank sien sit – uit swart karton gesny en met gloeiende rooi oë – word die leser emosioneel en intellektueel betrek.” (Lona Gericke op Media24 webwerf)

“Jeugkarakters wat papierbeen uit die boekbladsye klouter en die werklikheid instap. Dít is wat gebeur wanneer jy Nanette van Rooyen se Ek was hier lees.” (Solette Scheepers in Rapport)

 

 

“Wat ek van Madri waardeer, is die respek wat sy het vir die manuskrip wat ʼn skrywer, soms huiwerig, maar ook met ʼn tikkie trots, voor haar neerlê. Sy weet dat ‘killing your darlings’ ʼn wrede en hartseer saak is en het simpatie daarmee. Maar ʼn boek is ʼn produk en soms is dit nodig om daaraan te beitel en selfs te kap. (Chop en change.) Sy lei met ʼn sagte, maar kundige hand om daarvan ʼn ‘kunswerk’ te maak.” (Kristel Loots)

“Wat ‘n heerlike, prettige boek! Daar is ook genoeg erns in en ‘n lekker kinkel in die storie om dit net lekker lyf te gee. Ek het die boek vreeslik geniet, eintlik het ek Roxy vreeslik geniet.” (Anne-Marie op Goodreads)

 

 

In landsbelang_Quintus van der Merwe

 

“Madri Victor het die bes denkbare mensvaardigheid (people’s skills) en weet hoe om ʼn skrywer te motiveer. Sy het baie ondervinding as uitgewer en verstaan die kuns van teksontwikkeling. Ek beveel haar sterk aan.” (Quintus van der Merwe)

“Op die oog af is die gegewe in ­Quintus van der Merwe se tweede politieke riller so naby aan die waarheid dat ’n mens jou wil-wil verbeel jy lees dinge soos dié ­bykans daagliks in die koerant.” (Irna van Zyl in Die Burger)

 

 

 

Bloedgrond

 

“Madri het my aangemoedig om ʼn roman aan te pak en die eerste een wat sy met haar intelligente insigte help vorm het, was Gister is ʼn ver land. Deur haar toedoen het ek dus ʼn romanskrywer geword. Haar aanmoediging, kennis, deernisvolle ondersteuning en wysheid het my skrywersloopbaan bevorder.” (Malene Breytenbach)

“My binnegoed sê vir my dat Breytenbach besig is om in ’n opwindende skrywer te ontwikkel – al weet ek nog net nie presies in watter rigting nie. Maar dophou sal ek haar dophou, en lees sal ek haar lees!” (Riana Scheepers op Litnet)

 

 

Boek van Ester

“Ek het Madri leer ken toe ek aan Die boek van Ester gewerk het en kan getuig dat haar bydrae en hulp met die teks beslis waarde toegevoeg het. Haar kundigheid oor en liefde vir die geskrewe woord maak dat sy met groot deeglikheid na ʼn manuskrip kyk. Verder is sy ʼn baie gemaklike persoon om mee saam te werk.” (Wilna Adriaanse)

“In oënskou kan daar gesê word dat Die boek van Ester die klassieke ondertone van ’n tipiese liefdesroman bevat. … Net so is daar ook elemente wat getuig van ’n meer ernstige aanslag in Adriaanse se werk. … Die verhaal speel af teen die breër agtergrond van die bewarings- en ekologiese vraagstuk en dit sorg vir ’n interessante en relevante aanslag tot die storielyn deur die klem wat dit op aktuele sake, soos natuurbewaring en misdaad, plaas. … Die boek van Ester sy plek werd op vanjaar se The List van Exclusive Books, juis omdat dit, soos Adriaanse se ander werke, 512 bladsye van pure vakansieleesgenot bied vir die hopeless romantics onder ons.” (Herman Wiid op Litnet)

 

 

Geld wat stom is_Tinus Viviers

 

“Dis hoe ek Madri Victor se opmerkings, vrae en voorstelle leer ken het toe ons saam gewerk het  aan Geld wat stom is: Op die punt af en eerlik. En ek dink regtig nie enigiemand anders kon soveel waarde aan my werk toevoeg as wat Madri gedoen het nie. Wees seker ek gaan weer en weer van haar dienste gebruik maak.” (Tinus Viviers)

“’n Mens wíl tot die einde toe lees. Die skrywer slaag daarin om ’n swetterjoel interessante karakters byeen te bring en die storielyn desondanks eenvoudig te hou.” (Jaybee Roux in Beeld)

 

 

 

“Sonder Madri sou my eerste chick lit-roman nooit gewees het nie. Haar leiding was van onskatbare waarde wat die storielyn, klimaks en einde betref. Daarsonder was my storie maar ʼn flouerige affêre. Uit ervaring met pakke en pakke goeie en minder goeie manuskripte, weet sy net eenvoudig wat werk. Veral vir debuutskrywers of iemand wat ʼn nuwe genre aanpak, is haar hulp en leiding ʼn moet-hê.” (Marida Fitzpatrick)

“Dis soos ’n heerlike skindersessie met jou beste vriendin, maar veel meer: dis ’n reënerige Sondagmiddag in ’n kokon van onderbeklemtoonde bliss in die bed met koffie en tjoklits; dis jy in jou duvet voor jou gunsteling-sepie, dis om skelm uit die kantoor te sluip om alleen te gaan fliek. Want dit is – presies nes chick lit veronderstel is om te wees – die hoogste vorm van gemak, troos en ontspanning. Dit skep ’n sone waarin jy heeltemal jouself kan wees. Sonder dreigemente, mededinging, vooroordele – en ook sonder pretensie dat jy eintlik intellektueel is.” (Anneke Rautenbach in Rapport)