Skryfkursusse

Jong, onervare skrywers maak dikwels dieselfde foute; hulle sukkel om karakters goed te ontwikkel, die regte perspektief te kies, spanning op te bou en ruimte só te gebruik dat dit meer as ʼn blote landskapbeskrywing is. Talent bring jou dus net só ver. Skrywers het, soos enige ander kunstenaar, nodig om die basiese “reëls” van hulle kuns te leer. Aan die begin van ʼn skrywersloopbaan is ‘n mentor wat jou leiding en hulp kan gee baie waardevol.

IMG_5629Die eerste kursus wat ek ontwikkel het, fokus op die kenmerke van ʼn goeie roman. Ons begin by die begin: hoe lyk ʼn goeie storie? In teenstelling met ander kursusse op die mark oorweldig ek jou nie binne ʼn kort tydjie met inligting of help jou slegs met die eerste paar hoofstukke nie. Ek wil hê jy moet dit wat jy leer ook prakties toepas sonder om oorweldig of onseker te voel. Die kursus strek daarom oor 6 maande, met een werskwinkel per maand, waartydens jy aan jou eie roman werk. Die kursus is nie beprek tot ʼn spesifieke genre nie. Of jy nou romanses, wetenskapfiksie of meer literêr skryf, hier leer jy watter elemente van jou storie ʼn sukses gaan maak en pas dit prakties toe.

Vir dié wat nie ʼn roman wil skryf nie, bied ek ʼn kursus oor die kortverhaal aan. Hierdie dagkursus fokus op die verskil tussen die kortverhaal en die roman. Ek gebruik deelnemers se verhale om o.a. karaktergroei, die opbou van spanning en belang van woordkeuse te illustreer. (Ek is ook besig met die ontwikkeling van ʼn kursus in die skryf van lewensverhale en ʼn kursus vir tieners. Ek hoor graag wat jou idees en behoeftes is.)

Al die kursusse is prakties; jy doen skryfoefeninge gedurende die werkswinkels en kry terugvoer van my, gepubliseerde skrywers en ander deelnemers. Kliek op die skakel vir meer inligting oor die kursus waarin jy belangstel:

Indien jy aan ʼn skrywersgroep behoort en ʼn spesifieke onderwerp of tegniese aspek het waaroor julle meer wil leer, kontak my gerus. Ek ontwikkel ook werkswinkels vir kleiner groepe wat aan jou behoeftes voldoen.