Manuskripontwikkeling

ontwikkelingManuskripte verskil van mekaar: sommige het slegs ʼn geraamte en vra heelwat werk voordat die storie ʼn hartklop kry, ander kort ʼn bietjie lyf en soms is daar dié wat reg is vir aantrek en inkleur. Omdat ek nie intensief met elke manuskrip wat ek kry kan werk nie, het ek ʼn maklike keuringsproses ontwikkel. Ek lees die eerste drie hoofstukke van jou verhaal waarna ek ʼn aanbeveling maak. Vir dié stories wat bloot nog geraamte is en dus baie herskryf vereis, beveel ek aan dat jy eers my skryfkursus bywoon. Die kursus is gemik op jong, onervare skrywers wat met die basiese aspekte van ʼn goeie verhaal, soos karakterontwikkeling, perspektief en spanning, sukkel. In die ses maande wat die kursus duur, sal jy leer hoe om hierdie en ander aspekte van ʼn goeie verhaal te bemeester. Jy kry kans om jou manuskrip te versterk. Wanneer jy klaar is met die kursus, of jou eerste drie hoofstukke meer om die lyf het, lees ek jou hele manuskrip krities. Daarna skryf ek vir jou ʼn deeglike verslag wat fokus op die haakplekke en probleemareas van jou verhaal. Die doel is om jou te wys wat die sterk punte is waarop jy kan voortbou en waar jy moet verbeter. Ek kyk o.a. na die struktuur van jou verhaal, die verteller en perspektief, karakterontwikkeling, dialoog, plot en spanning, en die hantering van ruimte. Ek maak voorstelle vir die verbetering van jou verhaal. As dit nodig is, hou ons ʼn dinkskrum en speel met idees vir ʼn sterkter storielyn of interessante karakters. Hierna is dit jou werk om te herskryf met my aanbevelings in gedagte. ʼn Ordentlike, stewige verhaal wat jou leser dadelik intrek en sy aandag enduit hou, word nie oornag geskryf nie. Die herskryf neem meestal maande. Wanneer jy tevrede is met jou eindproduk, kan jy dit weer stuur vir ʼn tweede lees. Ek sal notas maak oor dele wat onduidelik of ongeloofwaardig is, clichés uitlig en na jou taalbeheersing kyk. Kortom, ek kyk watter haakplekke daar nog in jou verhaal is; ons werk saam daaraan totdat jou manuskrip gereed is vir voorlegging aan ʼn uitgewer.

Onthou, hierdie proses waarborg nie publikasie nie. Uitgewers neem verskeie faktore in ag voordat hulle ʼn boek publiseer. Maar ʼn sterk voorlegging verhoog beslis jou kanse op publikasie.

Gaan lees gerus oor my kursus en wat ander skrywers saam met wie ek gewerk het sê. Indien jy belangstel om saam met my aan jou manuskrip te werk, stuur vir my ʼn e-pos aan info@madrivictor.co.za.